top of page

Bagasie


Daar is nie een van ons wat nie bagasie het nie. Dit is ’n gegewe. Die vraag is net: Wat doen ons uiteindelik met die bagasie wat ons dra?

Sommige van ons ignoreer dit en maak of dit nie bestaan nie, maar besef nie dat daardie bagasie soos ’n monster onder in ’n kelder groei om my later, as ek ouer is, onverwags van agter aan te val nie.


Ander van ons weet dit is daar en glo dat ons eendag die moed sal hê om dit uit te sorteer, maar kom nie agter dat die bagasie jaar in en jaar uit net meer word en dat daar voortdurend nuwe dinge bykom, omdat ek nie die ou goed uitsorteer nie.


En dan is daar die van ons wat nie eers besef dat ons bagasie saamdra nie. Nie besef dat dit ons van onder af regeer en die kwaliteit van ons huidige verhoudings en ons lewenskwaliteit negatief beïnvloed nie.


Ek glo dat die dapperste ding vir ons as gelowiges is, om so vinnig moontlik met ons bagasie te gaan sit en een vir een die slotte te breek, die tasse uit te pak en die ou goed aan te spreek. Natuurlik kan dit intens pynlik wees, en daarom skram ons weg van die pyn. Amper soos iemand wat weier om die vrot tand te laat stop omdat jy bang is dat die tandarts jou gaan seermaak, net om in elk geval later krullend van die pyn in die tandarts se stoel op te eindig.


As ons nie iewers die bagasie aanspreek nie, sal ons nooit as vry mense leef nie. Meer nog, ek is oortuig dat God ons nooi om die bagasie neer te sit, want daarsonder sal ons futiel poog om lig te reis en voortdurende besig wees om lyke uit die verlede saam te sleep.


Dit beteken natuurlik nie dat ek op ’n punt moet maak of sekere dinge nie gebeur het nie. Wat gebeur het, het gebeur en daardie dinge sal maar altyd deel van my verhaal wees, maar dit word bagasie as dit begin om my manier van dink en leef en doen te affekteer. Kom ons wees eerlik: ons het dalk meer bagasie as wat ons wil erken. Vryheid lê daarin om dit te erken en dit aan te spreek.


In Handelinge 27 is daar hierdie verhaal van Paulus wat na Italië geneem word om daar verhoor te word. Tydens die vaart raak die weer al slegter en die swaar vrag maak dit vir hulle onmoontlik om die storm te oorleef. Uiteindelik het hulle begin om die hele vrag, ook die koring en die skip se toerusting oorboord te gooi om die skip ligter te maak. Dan, op ’n stadium, sê Paulus vir hulle hierdie woorde: “Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan.”


Sou hierdie verhaal dalk vir jou ’n metafoor kon wees? Sou jy dalk deur God genooi word om jou boot ligter te maak deur die bagasie oorboord te begin gooi? Ironies genoeg is ons bagasie soms so deel van ons identiteit dat ons regtig doodsbenoud is om dit aan te spreek, want wie is ek daarsonder?

Maar hou moed! Jy sal beslis nie jou lewe verloor nie. Inteendeel. Die skip van die voorlopige/oorbodige/vals self sal dalk in die proses vergaan, maar jy sal die Lewe vind, want eers as ek my begin losmaak van die bagasie, sal ek ten diepste vry kan begin leef.

15 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page