top of page

Deur jou sonbril

Updated: Feb 14




Iewers in die hartjie van Desember staan ek en my mense op Tafelberg, vir die eerste keer in baie jare. Dis ‘n pragtige helder dag en al laatmiddag. Ons besluit om te wag vir die son om onder te gaan, want nie een van ons was al ooit met sononder op Tafelberg nie.

 

Terwyl ons wag (en dit was nogal ‘n lang wag, met die dat die son laat ondergaan in die Kaap in Desember!) sien ons elke paar minute hoe die hele landskap verander. Die tafereel van die rollende wolke oor die berg en die son wat al laer sak met die lig wat op die see speel, is soos ‘n reuse kaleidoskoop wat stadig draai. Op ‘n punt sê my jongste: “Julle moet bietjie sien hoe lyk dit deur my sonbril!” En net hier begin daar ‘n uitruilspeletjie waar ons een na die ander mekaar se sonbrille opsit en verwonder is oor die kleure wat ons deur die ander een se lense sien. Die interessante is dat daar nie ‘n wenner was nie. Soos die lig verander het, het die moontlikhede en perspektiewe van wat ons tussen die verskillende pare lense kon sien, net meer geword.

 

Wat begin het as ‘n lawwe speletjie, het ‘n moment geword wat sedertdien heeltyd by my bly en my elke nou en dan laat vra: wat sal gebeur as ons net mekaar se lense kan opsit, as ek deur jou bril na die lewe kyk en nie net deur my eie nie, nie net op die bekende manier wat my soms verhoed om anders te sien nie?

 

Ons is so gewoond aan ons eie perspektief, aan ons eie maniere van dink, dat ons nogal dikwels nie regtig oop is vir ‘n ander moontlikheid en ‘n ander perspektief nie.

 

In die laaste paar maande was daar verskeie situasies in my lewe wat redelik vasgeloop gevoel het. Tydens een van hierdie situasies gesels ek met ‘n vriend en hy vra: “Wat kan hier gebeur om uit hierdie vasgelooptheid te kom?” Ek antwoord: “Ek weet regtig nie”, en hy sê: “Ag nee man, kom nou, ons gaan nou uit hier impasse kom. Wat is nog moontlikhede?”.

 

Ek het daar weer ‘n baie waardevolle les geleer: My perspektief is beslis nie die enigste perspektief nie. Trouens kan my perspektief so vasgeloop, vasgeval of rigied wees, dat dit veroorsaak dat ek nie ander moontlikhede raaksien nie en totaal oorweldig word deur ‘n probleemversadigde situasie. Maar die oomblik as ek ‘n ander moontlikheid soek, gaan daar alternatiewe oop waaraan ek nie vroeër gedink het nie. 

 

So die afgelope paar maande probeer ek hierdie dissipline aanleer:

Elke keer wanneer ek voor ‘n probleem of vasgeloopte situasie te staan kom, sê ek vir myself: “Dink aan ten minste net nog een ander perspektief.” Ek probeer myself forseer, want soms kíés ons ook vir een of ander onbewustelike rede om net een perspektief of invalshoek raak te sien.  En as ek dit nie regkry nie, probeer ek onthou om vir die Here te vra om my te help om net ‘n raps ruimer te dink. As ons dit nie leer doen nie, is daar ‘n werklike gevaar dat ons gevangenes van ons eie persepsies word.

 

Mag elkeen van ons leer om nie gevangenes van ons eie persepsies te wees nie, maar om al meer soos die Here, verskeie perspektiewe raak te sien voor ons besluit watter een die mees waarskynlike is.

©️ Marina vd Linde 2024

 

8 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page