top of page

Die genade van kwesbaarheid: Reaksies

Pete Scazzero beskryf twee soorte mense: die een soort wat nie kan erken dat hulle kwesbaar, swak en gebroke is nie en die ander soort wat wel hulle kwesbaarheid, swakheid en gebrokenheid kan erken, en dan op ‘n sekere manier daarop reageer.

Wanneer ‘n mens die kenmerke van elkeen lees, is ‘n mens se eerste reaksie om onmiddellik die mense in jou lewe raak te sien wat so optree, maar kom ons kyk vir ‘n oomblik net na onsself en die manier hoe onsself op ons eie kwesbaarheid reageer.



Scazzero sê dat ‘n mens op een van twee maniere op kwesbaarheid kan reageer: trots en verdedigend of oop en tegemoetkomend.

Jy hoef nie al die bokse te “tick” voor jy trots en verdedigend deur die lewe gaan nie, maar die kans dat jy op meer as een van hierdie maniere sal reageer is redelik goed.

 

As jy trots en verdedigend raak as jy kwesbaar voel, tree jy so op:

·      Aanvallend;

·      Probeer jou eie onvolmaakthede en gebreke verdedig;

·      Fokus outomaties op die tekortkominge, foute en sondes van ander;

·      Weerhou mense daarvan om werklik te sien wat binne-in jou aangaan;

·      Moet altyd reg wees om in beheer te wees en goed te voel;

·      Kan nie raaksien dat jy ook ‘n aandeel aan verhoudinspanning of gebrokenheid het nie en is daarom nie bereid om iets daaraan te doen;

·      Blameer ander, hou dikwels wrokke en vra selde vergifnis; en

·      Skryf mense af wanneer daardie persoon aanstoot gegee het.

 

Hoe lyk ‘n oop en tegemoetkomende reaksie op jou eie kwesbaarheid, volgens Scazzero?

·      Deursigtig – wys wat binne-in jou gebeur vir die belangrike ander in jou lewe;

·      Bewus van die swak, behoeftige en beperkte dele van jouself;

·      Erken mislukking en is bewus van jou eie gebrokenheid;

·      Het deernis en is stadig om ander te oordeel,

·      Vergewe makliker en gee iemand ‘n kans om hulself te bewys;

·      Oop, sagmoedig en nuuskierig oor ander;

·      Kan raaksien dat jy ook ‘n aandeel aan verhoudinspanning of gebrokenheid het en is bereid om iets daaraan te doen;

·      Kan sê "Ek was verkeerd", foute en swakheid erken en verantwoordelikheid vir jou eie gedrag aanvaar; en

·      Hou mense nie mense se sondes vir altyd teen hulle nie.

 

Ek vermoed jy sal met my saamstem dat die meeste van ons nie so goed vaar op die “oop en tegemoetkomende” tabel as wat ons dalk dink nie en die vraag is waarom? Dit is feitlik onmoontlik om oop en kwesbaar te wees as ek nie veilig voel nie, en ek sou ook nie aanraai dat ‘n mens jou kwesbaarhede aan onveilige mense ten toon stel nie. Dan is dit ongelukkig om jou kosbare pêrels in die modder te gooi om vertrap te word, maar ‘n mens kan ook deur jare aanleer om so trots en verdedigend te reageer, dat jy verleer wat openheid en tegemoetkomendheid werklik is. Vir ‘n mens se eie emosionele en geestelike (en ook fisiese) gesondheid, is dit uiters noodsaaklik dat ‘n mens wel leer om oop en tegemoetkomend op jou eie en ander se kwesbaarheid te reageer.

 

Hoe minder oop en tegemoetkomend ek met my eie kwesbaarheid gaan omgaan, hoe versigtiger gaan mense vir my wees en hoe meer gaan ek diegene na aan my verstoot. Ons sê ook dikwels dat ons trots en verdedigend reageer, omdat iemand anders op ‘n sekere manier opgetree het en as hy of sy anders optree, sal ek anders optree. Ek vermoed die antwoord lê nie optimaal in so ‘n reaksie nie. Ongelukkig vra ‘n geloofsvolwasse reaksie dikwels dat ek die een sal wees wat die eerste tree gee. Iewers moet iemand die siklus breek (en ek sê hierdie met diep begrip en deernis vir die kompleksiteit van ons menslike situasies), alhoewel dit nie altyd moontlik is nie.

 

As ek in ‘n konteks wil leef, waar ek ook veilig kan voel met my eie kwesbaarheid, sal dit dalk daarby moet begin dat ek ‘n konteks skep waarbinne iemand anders veilig voel om kwesbaar te wees, en hoe ek op my eie en ander se kwesbaarheid reageer, gaan bepaal of ek so ‘n mens word. Reaksies speel ‘n baie groter rol in die realiteit wat ons skep as wat ons besef.

 

©️ Marina vd Linde 2024

2 views0 comments

Recent Posts

See All

コメント


コメント機能がオフになっています。
bottom of page