top of page

Die kosbaarste skat

In Matteus 13: 44-46 vertel Jesus hierdie twee kort gelykenisse:


“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n skat wat in 'n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.

“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. As hy 'n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.”


Ek was nog altyd aangetrokke tot hierdie twee beelde: ‘n versteekte skat wat ontdek word en dan verkoop die persoon alles wat hy het om daardie grond te bekom en ‘n pêrelhandelaar wat op ‘n uiters waardevolle pêrel afkom en alles wat hy het op die spel plaas om daardie pêrel te kan koop.


Maar ek vermoed ons het ‘n nuwe stel lense nodig as ons ten diepste wil verstaan wat Jesus hier sê. Ons grootste denkfout wat ons hier kan maak is om te dink dat “koninkryk van die hemel” iets daar ver is waarheen ons op pad is en wat “eendag” met ons gaan gebeur. “Koninkryk van die hemel” gaan nie vir Jesus oor ‘n plek nie.


Dit gaan oor ‘n sekere manier van dink en verstaan en wees. Dit gaan daaroor dat ek al meer in harmonie met God sal begin “wees” en so ontdek dat hierdie “koninkryk” so ryk, diep, omvattend en lewegewend is, dat dit eintlik glad nie met woorde beskryf kan word nie. Dít is nie iets wat daar buite myself kan gebeur nie. Dit is iets wat hier binne moet gebeur. Dit is waarom die kontemplatiewe spiritualiteit graag van die standpunt uitgaan dat die diep pad met God nie daar ver of buite myself begin nie, maar hier diep binne myself, waar net ek en God kom.


God se diep pad begin in my eie siel. George en Matilda Angus haal in hierdie opsig vir Augustinus aan: “Here, gee dat ek myself sal ken sodat ek U kan ken”, en ook Johannes Calvyn: “Sonder selfkennis is daar geen kennis van God nie”. Ek weet dit maak heelwat mense soms bang om te dink dat ek in myself moet afstap om God ten diepste te ontdek, maar dalk is dit deel van die skewe idees en leuens wat oor jare aan ons opgedis is: jou eie siel is net te onbetroubaar en daarom het jy het ‘n eksterne ekspert nodig om jou van God te vertel, met die gevolg dat ons selde of ooit die skatte ontdek.


Baie belangrik: Hiermee sê ek glad nie dat die Bybel, die tradisie en tradisionele invloedryke stemme in my lewe nou die knie moet buig voor my eie idees en selfgemaakte eklektiese godsdiens of spiritualiteit nie, want hierdie oortuiging is amper nog skewer en selfs gevaarliker, maar veel eerder dat ons sal moet leer om verder te gaan…


Miskien is dit een van die redes waarom Jesus so probleem het met “die wêreld” – wat trouens ook nie ‘n plek is nie, maar ‘n filosofiese konstruk en ‘n stel idees, waardes en beginsels, ‘n manier van wees en leef, wat die teenoorgestelde is as “die koninkryk van God”.


“Die wêreld” sit hierdie swaar las op ons en maak dat baie van ons onsself so gedaan werk en so min ruimte het om asem te haal, dat ons eenvoudig emosioneel, psigies en geestelik te uitgemergel is om die skat in die koringveld wat in die heilige grond van my eie siel en die kosbare pêrel wat op die bodem van my eie diepste self lê en wag, te kan bekom. Ons word slawe van “die wêreld”.


Mag die Here aan ons die genade gee om te werk wanneer dit tyd is om te werk, maar om ook lewenskeuses te maak en ons lewensritme so in te rig, dat ons die tyd en ruimte het om die kosbaarste skat ons eie te maak.




40 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page