top of page

Die langste nag


Vanaand is 'n spesiale aand, want dit is Winter Sonstilstand of “Winter Solstice” in die Suidelike halfrond – die langste nag en die kortste dag. Persoonlik hou ek meer van die Engels. Daar is iets meer misterieus aan die woord “solstice” as aan “sonstilstand” wat die verskynsel darem net te klinies beskryf. “Solstice” is eintlik ‘n Latynse term saamgestel uit “sol” (wat “son” beteken) en “sistere” (wat “om te laat staan” beteken). Hierdie natuurlike geografiese oorgange is altyd vir my op ‘n diep vlak betekenisvol, omdat dit ons herinner aan die feit dat ons deel is van ‘n baie groter ritme. Dat ons onderworpe is aan ‘n groter sisteem van lewe waarvan ons maar nog steeds bitter min verstaan.


Die seisoen van winter is vir baie mense uitdagend, maar ‘n dieper verstaan van die taak van die winterseisoen maak ons bewus van ander gawes eie aan hierdie tyd.


· Dit is ‘n tyd van terugtree en toelaat dat die natuur haar gang gaan – dikwels teen my sin in.

· ‘n Tyd van terugtrek en reflekteer en eerlik kyk na die stand van sake.

· Dit is ‘n seisoen van gestroop word en ‘n eerlike voorraadopname maak van wat regtig in my lewe en verhoudings aan die gebeur is.

· ‘n Seisoen van kwesbaarheid en blootgestel voel, maar ook met die beloning van dieper konneksie en intimiteit – indien ek daarin kon slaag om die toets van dit wat my kwesbaar en blootgestel gelaat het, te kon deurstaan.

· Wintertyd herinner ons dat dinge soms dormant en in stilte gelaat moet word vir ‘n heiliger, dieper rus en herstel wat tot nuwe perspektief kan lei.

· Dit is ‘n tyd van na binne keer en bewus word van diep smagtings en die dinge waarna my siel dalk al lank verlang.

· In die winter leer ons weer dat daar tye is waar daar meer donker is as waarmee ons gemaklik voel, maar dat ons nie bang hoef te wees vir donkerder tye nie, want vir God is selfs die duisternis nie donker nie, soos Psalm 139 sê. (Ek is bewus daarvan dat heelwat mense met depressie sukkel en met “donker” verwys ek nie daarna nie, maar na tye wat om ander redes swaar en onseker en uitsigloos voel.)

· Winter maak ons diep bewus dat nie alle mense die luukse van ‘n veilige plek en ‘n beskutte lewe het nie.

· Dit is ‘n seisoen wat vra dat ek sal aandag gee aan die donkerder aspekte van myself en nie daarvan wegskram nie.

· Winter nooi ons ook om erkenning te gee aan die eindes in ons lewe en om klaar te maak en af te sluit waar nodig, om spasie te skep en ontslae te raak van onnodige bagasie van ‘n vorige seisoen.

· Wintertyd vra dat ek so bietjie minder druk op myself sit en effens sagter en met meer deernis met myself en ander mense omgaan, want dit is vir ons almal moeilik om in die koue van die winter gemaklik te leef.


So dalk trek jy vanaand terug en krul onder ‘n kombers op of dalk klim jy vroeg in die bed en wens die winter verby of dalk steek jy ‘n groot vuur aan wat lig en warmte bring vir ‘n nuwe manier van wees. Hoe dit ook al sy, mag jy vertrou dat die Here - wat in die donker van hierdie lang nag werk - alles wat stukkend of gebroke of bang of seer of moeg of oorweldig is, op die diepste moontlike vlak wil aanraak en dit in hierdie seisoen omvorm op maniere wat jyself nie sou kon bedink nie en wat uiteindelik tot nuwe lewe lei.





17 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page