top of page

God se swamvlok


Ek raak maklik meegesleur deur prosesse in die natuur. Ek wonder dikwels waarom ons mense dink dat dinge in ons menslike realiteit ander reëls as die natuur moet volg? Wanneer het dit gebeur dat ons onsself so los van die natuur begin dink het? Is dit nie dalk nodig dat ons meer dikwels besef dat wat in die natuur gebeur ons baie kan leer oor hoe dinge tussen ons mense kan werk nie?

Iets wat my nog altyd fassineer is die verskynsel van swamvlok of miselium, die netwerk van fyn skimmeldrade wat plante en bome meestal ondergronds aan mekaar verbind.

‘n Mens kry simbiotiese swamme waar die swam die plantwortels help om water en voedingstowwe, soos stikstof en fosfor, op te neem, terwyl die swam sukrose, stysel en glukose by die plant kry om te kan oorleef. Die verhouding werk. Dit help albei organismes om te floreer en te gedy. Daar is ‘n diepliggende wederkerigheid.

In die geval van parasitiese swamme “steel” die miselium die lewensap van die gasheer, deur die gasheer deur 'n mikrowond in te dring en van binne af aan te val. Die swam bring niks goeds na die plant nie, maar “suig” die plant leeg sodat die plant kwyn en uiteindelik sterf.


Sommige van ons dink dat dit maar reg is om parasitiese verhouding met ander mense te hê. Om toe te laat om misbruik en leeggesuig en opgebruik te word, want ons is mos Christene.

Ander van ons is die leegsuigers en sien dit dalk nie eers raak nie. Ons vat dalk meer as wat ons moet. Verwag meer as wat gesond is, en belê nie van ons kant af wat nodig is in die verhouding nie.

Maar op die lang duur is daar niks lewegewend in verhoudings waar albei partye nie ervaar dat daar ‘n wederkerige en simbiotiese spanpoging is waar beide partye gee en beide partye ontvang nie.

Soms is die een persoon inderdaad die een wat meer tasbare dinge bring, soos tyd, hulp en hulpbronne, maar nie-tasbare dinge soos respek, deernis, begrip en waardering dra net soveel gewig.

Miskien moet ons meer na God se voorbeelde in die natuur draai om ons verstaan van menslike dinamika en verhoudings te informeer – en minder ons skeefgetrekte kwasi-Christelike, soms selfs gevaarlike, persepsies van “selfopoffering en naastediens” gebruik om skewe en ongesonde verhoudings te regverdig.

Gaan soek gerus in die Bybel: eensydige verhoudings is uiteindelik maar parasities. Wederkerige verhoudings is lewegewend en skep die swamvlok waarbinne mense kan gedy en floreer.

1 view0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page