top of page

God van Skoonheid


Om God te sien, te hoor en van God bewus te wees is iets waarna die meeste mense op een of ander manier smag. Ek is seker jy het al dikwels gehoor hoe iemand sê: “Die Here sê vir my sus of so.” Daar was ‘n tyd in my lewe dat ek nogal jaloers was op mense wat so direk in kontak met God is, tot ek op ‘n dag besef het dat God waarskynlik bitter selde so met ons mense praat.


God se eerste taal is nie Afrikaans nie. Om die waarheid te sê verkies God waarskynlik nie eers mensewoorde nie. Ek wonder of God se eerste taal nie stilte is nie. Johannes van die Kruis het al in die 16e eeu gesê dat God se eerste taal stilte is. Later jare het Thomas Keating bygevoeg: “Silence is God’s first language; everything else is a poor translation.“


As God se eerste taal stilte is, dan is skoonheid kort op die hakke van stilte. As jy op soek is na God se stem of iets van God wil sien, vind skoonheid. Kan dit so eenvoudig wees? Ek dink tog so! Dink maar vir jou self: die eerste sonlig van die dag wat deur die takke breek, ‘n pragtige blom, die kleure van ‘n spreeu, oë in verkreukelde oogkaste, ‘n fyn geweefde mat, die lyne en rondings van ‘n lyf, ‘n asemrowende sonsondergang, ‘n mooi gedekte tafel, visse in ‘n dam, ‘n lowerryke tuin, die borrels van die skottelgoedwater, kuns wat jou hart raak, musiek wat jou siel streel. Ons kan duisende voorbeelde noem. Wanneer my hart skoonheid herken, word iets in my siel aangeraak en ek ervaar onmiddellik ‘n estetiese en eteriese konneksie met die Bron van ontstaan. Dit is waarskynlik waarom ons mense so aangetrokke voel tot skoonheid in elke moontlike vorm: instinktief weet ons dit is God wat praat.


Ann Voskamp verwoord dit aangrypend: “I want to see beauty. In the ugly, in the sink, in the suffering, in the daily, in all the days before I die, the moments before I sleep. Isn't beauty what we yearn to burn with before we die? That is what I crave: I hunger for Beauty. Beauty is the voice endlessly calling and so we see, so we reach. Doubt the philosophies, doubt the prophecies, doubt the Pharisees, but who can doubt this, Beauty? Beauty requires no justification, no explanation; it simply is and transcends. See beauty and we know it in the marrow, even if we have no words for it. Someone is behind it, in it. Beauty Himself completes.”


Mag jy vandag oral waar jy kyk Skoonheid vind.

29 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page