top of page

Hallo uit Japan! Kaizen: Millimeter vir millimeter

Updated: Feb 14

In die wêreld waarin ons leef werk baie mense met ‘n hysbak mentaliteit. Ons wil die knoppie druk en sekondes later op ‘n ander plek wees. Dit het waarskynlik baie te doen met ‘n kultuur van onmiddellike behoefte bevrediging of “immediate gratification.” Ongelukkig is dit ‘n uiters onrealistiese verwagting van die lewe.


‘n Beter manier om te lewe is om elke dag, millimeter vir millimeter, daardie dinge te doen wat uiteindelik oor ‘n lang tyd ‘n groot verskil gaan maak.

Dit is waaroor die konsep van “kaizen” gaan. Om konstant besig te wees met voortgaande, piepklein verbeterings op alle vlakke van jou lewe. Die woord “kaizen” beteken letterlik “goeie verandering”. Om met ander woorde te kyk op watter manier ‘n mens in alle aspekte van jou lewe elke dag ‘n klein bietjie kan groei, verbeter en verander. Ons besef dit nie dikwels nie maar groei en verbetering wat met konstante klein inkremente gebeur het ‘n baie groter effek op ons lewe as die groot, eenmalige veranderings.


Dit is ook die beginsel waarmee God se koninkryk werk. God verkies feitlik altyd die klaarblyklike onsigbare metode, waar dinge dag vir dag en millimeter vir millimeter skuif en groei, tot dit met verloop van tyd heeltemal anders lyk.


Matteus 13:31-33 verduidelik dit aan die hand van die beeld van die mosterdsaad en die gis. Die mosterdsaad en die gis lyk aanvanklik soos iets piepklein sonder baie invloed, maar wanneer jy dit loslaat en toelaat dat die mosterd en die gis oor ‘n tyd stadig maar seker hulle werk doen, het dit ‘n baie groot uitkoms tot gevolg.

 

‘n Mens is geneig om klein, volhoubare veranderings te onderskat, maar dit is waar ons die fout maak. Dit is die klein veranderings wat oor tyd die mees dramatiese en lewensveranderende uitkomste het.

Dit is natuurlik ook waaroor die hele “atomic habits” beweging gaan. Die titel van James clear se boek is ook: “Atomic habits: Tiny changes, remarkable results”. Dit gaan basies daaroor dat daar baie dinge in die lewe is wat ons nie kan beheer nie, maar ons het beheer oor ons gewoontes.


As ek graag wil fiks wees, word ek nie fiks deur vir een dag heeldag te oefen nie, maar deur elke dag ‘n bietjie te oefen en elke dag ‘n bietjie beter te doen. As ek graag wil gewig verloor, gebeur dit nie deur een dag niks te eet nie, maar deur oor ‘n lang tyd elke dag bewustelik om te gaan met wat en hoeveel ek eet en dit elke dag ‘n klein bietjie beter te doen. As ek ‘n boek wil skryf, doen ‘n mens dit nie in een dag nie, maar deur elke dag oor maande een bladsy te skryf en dit elke dag ‘n bietjie beter te doen. As ek God se soort mens wil wees gaan dit nie oornag gebeur nie, maar dit gebeur deur elke dag toe te laat dat God my bewussyn transformeer en tree vir tree nader te kom aan God se droom vir my.


Elke klein handeling in die rigting van my droom is ‘n keuse vir of daardie droom gaan realiseer of nie.

Klein slegte gewoontes is dalk bevredigend in die oomblik, maar bou oor jare op mekaar en word ‘n destruktiewe manier van leef. Klein goeie gewoontes voel nie in die oomblik so lekker nie, maar met verloop van tyd het dit ‘n radikale uitwerking. Of soos Clark sê: “The cost of your good habits is in the present, the cost of your bad habits is in the future.”


James Clark stel die volgende praktiese stappe voor:

  1. Optimaliseer jou omgewing: moenie die suiker en chips aanhou nie, gooi ‘n groot beker water in en sit dit op jou lessenaar neer, verwyder “Facebook” van jou foon af en lees dit net op jou rekenaar.

  2. Die 2 minuut reel: maak die gewoontes so maklik doenbaar as moontlik. As ek iets 90% van die tyd vir 2 minute kan regkry, sal ek daarmee volhou. As ek dit nie kan regkry nie, moet ek die plan vereenvoudig en dit vir myself nog makliker maak om dit te doen.

  3. “Master the entry points”: Kom net deur die eerste 30 sekondes van ‘n gewoonte. Gewoontes is net die beginpunt wat die uiteindelike doelwit gaan moontlik maak. Hoe makliker ek dus by die gewoonte kan hou, hoe groter is die kans dat ek by die doelwit gaan uitkom. As ek kreatiewe maniere kan kry om net te begin wat ek eintlik wil doen, is die kans baie goed dat ek dit gaan doen.


Dit was Aristoteles wat gesê het: “We are what we repeatedly do. Excellence, therefore, is not an act, but a habit and life isn’t just a series of events, but an ongoing process of self-definition. Excellence is never an accident. It is always the result of high intention, sincere effort, and intelligent execution; it represents the wise choice of many alternatives. Choice, not chance, determines your destiny.”


Om met “kaizen” te begin leef, is dalk die “game changer” wat jy nodig het.


©️ Marina vd Linde 2023




6 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page