top of page

Hallo uit Japan! Mono no aware: Vervlietend

Updated: Feb 14

Die Japanese konsep “mono no aware” beskryf die bittersoet waardering vir die vervlietende aard van die lewe. Dit herinner ons dat alles verbygaan en dat niks vir ewig hou nie. Nie vreugde of hartseer, of skoonheid of aftakeling, hou vir ewig nie. Daarom word ‘n mens uitgedaag om die lewe, soos dit is, in die oomblik te koester, skoonheid te herken wanneer dit daar is en dankbaarheid te ervaar vir die tyd wat ons het.

 

In hierdie tyd van die jaar, waar dit voel asof die wiele nie vinniger kan draai nie, het ons veral “mono no aware” nodig!

 

Ek het vir ‘n lang tyd oor myself gedink as die mamma van twee klein kindertjies. Ek lees so ‘n ruk terug hoe ek in ‘n joernaal van 5 jaar gelede skryf: “As die een kind 10 cm langer as ek en die ander een 10 cm korter as ek is, kan ek mos dan onmoontlik nog die ma van klein kindertjies wees.” Terwyl ek dit lees tref dit my: die kind wat 10cm langer as ek was, is nog steeds 10cm langer en word oor twee maande 21 en gaan begin met haar laaste jaar van studies. Die kind wat 5 jaar terug 10 cm korter was as ek, is nou amper 15 cm langer en skryf volgende jaar matriek.

En net daar pak ‘n blywende nostalgie my beet, saam met die groot, swaar en belangrike besef dat die lewe vir niemand wag nie. Die lewe is vervlietend.

 

Die Engelse woord “ephemeral” beskryf dit so mooi.

“Ephemeral” beteken: “lasting for a very short time, transitory, transient, passing, short-lived, momentary, brief, short, cursory, temporary, impermanent, fading, evanescent”.

 

Die wysheidsliteratuur verstaan dit net so goed:

3 U laat toe dat die mens doodgaan.

U sê: “Mens, word weer stof waaruit jy gemaak is.” En so keer die mens terug na die grond toe waaruit U hom gemaak het.

Die mens se lewe gaan baie gou verby.

4 In die Here se oë word tyd nie met ’n horlosie gemeet of volgens die almanak bepaal nie, want 1 000 jaar is vir U presies dieselfde as een dag.

5 Die lewe is kort. U vat die lewe terug.

Dit gaan so vinnig verby soos een dag se werk vinnig agter die rug is.

Die een jaar na die ander laat U soos water wegspoel.

Dit gaan so gou verby soos tyd as ’n mens slaap.

Die lewe is soos gras.

6 In die môre sien jy nuwe grassies opkom; dit is groen en vol lewe, maar teen die aand se kant het dit uitgedroog. Dan moet jy dit afsny.(Psalm 90 uit die Boodskap)


Om hierdie rede is bewustelik leef een van die grondbeginsels van die kontemplatiewe spiritualiteit, want dit is in die vervlietendheid van die oomblik dat God my ontmoet. Om bewus te wees van die hede en die realiteit en dit wat werklik om my aan die gebeur is. Om bewus te wees van mense en gesprekke en belewenisse en ervarings en om nie aanhoudend deur lense en skerms en illusies en persepsies te leef nie. Die lewe is kort. Jy het een kans. Gebruik dit.

©️ Marina vd Linde 2023




2 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page