top of page

Hallo uit Japan Shuhari: Leer die reëls, voor jy hulle breek

Updated: Feb 14

Dit was Picasso wat gesê het: “Learn the rules like a pro, before you can break them like an artist.” Ek het hierdie beginsel toe wel op ‘n dag by Picasso self gesien tydens ‘n uitstalling. Die uitstalling was gefokus op die progressie van Picasso se styl. Ek kon nie glo dat die delikate, gedetailleerde, realistiese rooi potloodskets sowaar Picasso was nie. Hy het nie van die begin af kubisties geverf nie! In sy vroeër jare as kunstenaar het hy by die reëls gehou, en dit eers later begin aanpas, maar die kunsbeginsels en konsepte was altyd die basis wat selfs sy mees uitspattige werk onderlê het.


Dit is presies waaroor “shuhari” gaan:

“Shu” beteken gehoorsaam die reëls, beskerm die eerste beginsels.

“Ha” beteken wyk af en maak jou los van wat jy geleer het, vind ‘n nuwe benadering en maak dit jou eie.

“Ri” beteken transendeer wat jy geleer het, maar op so ‘n manier dat die basiese beginsels en die hart daarvan behoue bly.


Die akido meester Endo Seishero sê: "It is known that, when we learn or train in something, we pass through the stages of shuha, and ri. These stages are explained as follows. In shu, we repeat the forms and discipline ourselves so that our bodies absorb the forms that our forebears created. We remain faithful to these forms with no deviation. Next, in the stage of ha, once we have disciplined ourselves to acquire the forms and movements, we make innovations. In this process the forms may be broken and discarded. Finally, in ri, we completely depart from the forms, open the door to creative technique, and arrive in a place where we act in accordance with what our heart/mind desires, unhindered while not overstepping laws."


Die dilemma met baie van ons vandag is dat ons by “Ha” en “Ri” wil uitkom, sonder om by “Shu” te begin. Waarom is dit belangrik om by “shu” te begin? Seishero sê dit: In shu, we repeat the forms and discipline ourselves so that our bodies absorb the forms that our forebears created. We remain faithful to these forms with no deviation.” Tydens “shu” word die beginsels van dit waarmee ons besig is so deel van wie ons is, dat dit ons in wese begin verander en ons eintlik maar word wat die vorm of die kuns van ons vra. Eers wanneer ‘n mens dat behoorlik in die vaste beginsels van “shu” gevestig geraak het, kan jy daaroor begin dink om daarvan af te wyk. Die verdere reusagtige fout wat ons maak is dat “shu” nie ‘n paar weke en maande neem nie, maar dit neem jare voor ek iets op ‘n inkrementele manier (soos in kaizen) my eie gemaak het.


Ek sien dit dikwels met mense wat begin leer oor die kontemplatiewe spiritualiteit. Die basis praktyk van die kontemplatiewe spiritualiteit is kontemplatiewe gebed. Dit is baie maklik, maar vra baie selfbeheersing om dit gereeld en met dissipline te doen. Die meeste mense wil baie vinnig hulle “eie ding doen” wat hulle beter pas, en in die proses leer hulle nooit die kuns van kontemplatiewe gebed nie, omdat hulle nie toegelaat het dat hulle dit word waarmee die praktyk van kontemplatiewe gebed jou wil help nie, en die vrug daarvan realiseer dan nie.


As jy met kunsklasse begin – en dit is ‘n behoorlike proses – gaan jy vir weke en maande teepotte en appels met potlood teken voor jy begin verf en die rede daarvoor is voor die hand liggend: as die basis van kunsbeginsels nie vasgelê is nie, gaan jy nie later met vaardigheid en flair kan doen wat jy moet doen nie. Dit is natuurlik waar van enige sport, kuns of vaardigheid.


“Shuhari” gaan ook van hierdie bekende standpunt in die kontemplatiewe spiritualiteit uit: “Include and transcend”. Jy los nooit dit wat jy aanvanklik geleer het agter jou nie. Terwyl jy dit meesterlik insluit, wyk jy stadig maar seker daarvan af en transendeer dit, sonder om die eerste beginsel ooit volledig te verlaat nie.


‘n Mens sou “shuhari” kon sien as konsentriese sirkel, met “shu” binne “ha”, en beide “shu” en “ha” binne “ri”. Die funadamentele tegnieke en kennis verander eintlik nooit, al lyk dit so.

Dalk moet ons geduldiger wees en nie te vinnig van “shu”, na “ha” en “ri” probeer beweeg nie, en toelaat dat die basisbeginsel eers in ons doen wat gedoen moet word. Dan sal ons dalk ontdek soos Cynthia Bourgeault ook ontdek het: die dieper pad met God word mettertyd die plek waarvanaf ek kom, en nie net die plek waarheen ek soms gaan nie.


©️ Marina vd Linde 2023





3 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page