top of page

Lewendig teruggebring

Updated: Jul 9, 2022

Onthou jy die storie van Tabita, of Dorkas (wat “bokkie” betekten), in Handelinge 9?


Die storie maak dit duidelik dat haar geloof en lewenswandel hand aan hand geloop het. Tabita was ‘n kreatiewe mens. Sy het klere gemaak vir die mense van die dorp. Maar op ‘n dag word Tabita siek en sy gaan dood. Die mense van die dorp, wat duidelik lief was vir haar, laat kom vir Petrus. Hulle is baie hartseer en wys vir hom al die mooi goed wat sy gemaak het. Petrus bid en net daar kom Tabita terug uit die dood.


Ek vermoed hierdie eenvoudige verhaal van die opwekking van Tabita is vir ons ‘n metafoor van hoe God in elkeen van ons se lewe wil werk.


Ons leef in ‘n tyd waarin baie van ons in een of ander vorm van doodsheid vasgevang is. Die dilemma is dat ons dit dikwels self nie eers herken nie. Ons word gevangenis van die doodsheid in en om ons en sonder dat ons dit eers raaksien, leef ons sleutel aspekte van ons lewens op outomaties. Ons raak so gewoond aan ‘n sekere doodse manier van leef dat ons nie die moed het om dit eers raak te sien nie.


En so leef ons vir jare aanmekaar vasgevang in situasies en kontekste en verhoudings en met dinge in onsself, wat ons net nie die moed het om aan te spreek nie, omdat die gedagte aan die gevolg van slapende honde wakker maak, net te erg is. Ons leef dan verskraalde en ingeperkte lewens uit vrees dat die ongemak en opoffering van ‘n ander manier van leef te hoog sal wees.


Hiermee saam sterf daar ‘n reuse stuk kreatiwiteit in ons. Ons vergeet dat ons kreatiewe deelnemers aan die lewe kan wees en besef nie eers noodwendig dat ons inherente en ingebore kreatiwiteit iewers ophou asemhaal het nie. Dit laat my dink aan Pablo Picasso se woorde: “Every child is an artist. The problem is how to remain an artist once he grows up.” Party mense sê mos: “Ek het nie ‘n kreatiewe haar op my kop nie”. Dalk het jy nie kreatiewe hare nie, maar jy dra beslis kreatiwiteit in jou siel en jou selle. Ons kom as kreatiewe siele in die wêreld in, omdat ons deur ‘n Kunstenaar aanmekaar gesit is en iets van Sy aard in ons dra.


Kreatiwiteit gaan nie eerstens daaroor om dinge te skep nie. Dit gaan in die eerste plek oor ‘n sekere bewussyn en manier van wees, wat gekenmerk word deur potensiaal, openheid, lewensmoontlikhede en ‘n hardkoppige verset om deur die doodsheid in en om ons verswelg te word. Soos Albert Einstein gesê het: "Creativity is seeing what others see and thinking what no one else ever thought."

En soms is dit ons eie vrees en versigtigheid oor die lewe – omdat ons onsself al dikwels bloedneus teen realiteit vasgeloop het – wat ons verhoed om na kreatiewe uitkomste te soek. George Lois slaan die spyker op die kop: “You can be cautious or you can be creative, but there's no such thing as a cautious creative.”

Maar soms gebeur dit dat ons, soos Tabita, “siek” word en dat iets in ons sterf.

Nadat Tabita gesterf het, staan Petrus by haar en sê: “Tabita, staan op!”; en sy word lewendig. En dan hierdie aangrypende woorde van vers 41: Petrus het Tabita lewend voor hulle gebring.


Dalk het die tyd gekom dat jy ook voor die doodsheid in jou eie lewe gaan staan, sodat die Here jou daarna lewend voor jou eie lewe kan terugbring. Sodat jy weer opnuut kan ontdek dat die lewe ‘n onophoudelike kreatiewe proses is, wat nie nodig het om deur doodsheid platgetrek te word nie. Soos Maya Angelou gesê het: "You can't use up creativity. The more you use, the more you have."



9 views0 comments
bottom of page