top of page

Op soek na die paradys






Die meeste van ons smag op een of ander manier na ‘n beter lewe. Daar is iets in ons mense wat ons voortdurend dryf in die hoop dat ons iewers êrens by ons eie klein paradys sal aankom. ‘n Mens is geneig om te dink dat dit net jy is wat hieroor droom, maar die meeste mense voel maar so.

 

Sedert die vroegste tye smag mense na hierdie paradys waar ons in ‘n byna perfekte staat en onuitspreeklik gelukkig en tevrede leef tot aan die einde van ons dae, waar alle verhoudings in harmonie is en waar almal se behoeftes in ewemaat aangespreek word en die storie ‘n sprokieseinde het.

Die verhaal van Adam en Eva in die Paradys beaam dit. Plato se “Die Republiek” en die verhaal oor die stad Atlantis onderskryf ook hierdie smagting en droom. Legendes soos King Arthur en Camelot, wat uit die 12e eeu dateer, gryp al vir eeue mense se verbeelding aan. Ek is seker dat jy iets van hierdie smagting in jouself herken.

 

Die woord “utopia” is afkomstig van Thomas Moore. Die woord sinspeel op die Griekse samestelling “ou topos”, wat geen plek beteken. Die ironie van die konsep van “utopia” is met ander woorde alreeds in die woord opgeneem: die smagting na iets wat eintlik nie bestaan nie. Iemand anders meen dat die woord “utopia” ‘n sinspeling is tussen “ou topos” (geen plek) en “eu topos” (die ideale plek). Die dilemma is dan juis dat die meeste van ons begin agterkom dat die teenoorgestelde van “utopia” dikwels iets van ons ervaring beskryf, naamlik “distopia”, ‘n plek wat alles behalwe perfek of ideaal is of salige geluk inhou.

 

Waar sou hierdie smagting vandaan kom? Ek dink die meeste van ons smag en verlang na die perfekte harmonie, eenheid en vrede wat ‘n mens net kan vind by God as die bron van ons ontstaan en waarheen ons mense terugkeer as ons doodgaan. Of soos iemand hieroor sê: “Our memories of yesterday fuel our hopes for tomorrow.” Hier op aarde gaan ons geen utopia of paradys vind nie, maar ons gaan altyd daarna verlang.

 

Wat sou tussen Utopia en Distopia lê? Sommige mense se Neutopia – ‘n neutrale plek, maar dit is beslis nie hoe dit in werklikheid uitspeel nie. Dalk is die plek tussen Utopia en Distopia doodgewoon Realiteit en noem ons dit “die gewone lewe”.

 

Iewers lees ek weer hierdie anonieme woorde raak:

 

Marriage is hard.

Divorce is hard.

Choose your hard.

 

Obesity is hard.

Fit is hard.

Choose your hard.

 

Being in debt is hard.

Being financially disciplined is hard.

Choose your hard.

 

Communication is hard.

Not communicating is hard.

Choose your hard.

 

Life will never be easy.

It will always be hard.

But we can choose our hard.

Choose wisely.

 

Die feit van die saak is: alles in die lewe het voordele en nadele, soms weeg die voordele swaarder en ander kere die nadele. Niks is ooit perfek nie en alles roep my op op sekere maniere te reageer en verantwoordelikheid te neem vir wat ek kies.

 

Daar bestaan nie so iets soos ‘n salig gelukkige bestemming nie, maar daar is wel die keuses wat ek elke dag in elke situasie kan uitoefen wat my ‘n raps nader kan bring aan God se lewegewende manier van wees.

 

Mag jy vandag, midde-in jou omstandighede, nie noodwendig smag na die paradys nie, maar die realiteit waar jy leef sien vir wat dit is en selfs in die kleinste dinge keuses uitoefen wat jou meer in harmonie met God, jouself en die lewe bring.


©️ Marina vd Linde 2024

7 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentarios


Los comentarios se han desactivado.
bottom of page