top of page

Terug na die begin


In die tyd waarin ons leef het ons beslis gesonde perspektief nodig. En dit geld ook vir ons perspektief op God. Want of ons dit nou wil weet of nie, ons perspektief op God bepaal in ‘n diep sin die groter perspektief waarmee ons elke dag leef en die hoek waarvan uit ons na alles kyk. Hoe ons oor God dink is hoe ons oor alles dink.


Om hierdie rede is dit goed om maar elke nou en dan weer terug te gaan na die begin van alles. En ‘n mens kan waarskynlik nie meer van ‘n begin kry as Genesis nie.


In die verhaal van die skepping van die mens word ons in die eerste plek as God se hoop en trots, God se geliefdes uitgestuur in die wêreld in en nie as God se grootste hoofpyn nie.


Genesis 1 en 2 leer ons hoe alles in harmonie ontstaan, God en die aarde en die mens.

Die eerste skeppingsverhaal sê in Genesis1: 31 “Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.” Ons sien ‘n pragtige afgeslote geheel waar alles in balans is.

Die tweede skeppingsverhaal in Genesis 2 praat ook van harmonie, oorvloed, floreer, vrede, behoort, nabyheid en veiligheid, waar God alles skep, ‘n paradys, waar alles in harmonie en ekwilibrium saam kan leef en waar ons verstaan hoe geliefd ons is.


En dan die skielike en skerp kontras van Genesis 3. Dit vertel ‘n verhaal van skaamte, verwydering, vrees, afstand, wegskram.


Hierna volg die hartseer verhaal van hoe daar afstand kom tussen God en mens en hoe dinge lelik skeefloop tot enorme verdriet van God en mens.


Om een of ander rede sukkel ons as kleinkinders van die Calvinisme om te hoor dat God ons in die eerste plek goed gemaak het. Ons is nie net sleg nie. Daar is duisende derduisende mense wat sukkel om te aanvaar dat God met vryvloeiende en allesoorweldigende, nie-veroordelende liefde na ons kyk. Dit is amper te goed om waar te wees, sal ons kritiese koppe dink.


Dit is te verstane as jy dink dat ons die erfgename is van Augustinus wat geleer het van die wurggreep van erfsonde, van Calvyn wat geleer het dat ons “totaal verdorwe” is, en Luther wat gesê het ons mense is eintlik maar niks anders as ‘n hoop kraalmis wat met Jesus Christus oordek is nie. As ons so dink oor onsself – en dink dit is die enigste waarheid oor ons, is die kans dat ons in vryheid en oorgawe op God gaan reageer en God sien as veilig en liefdevol en naby, maar skraal.


Die Bybel begin met ‘n verhaal van konneksie en beweeg van daar af na ‘n verhaal van verwydering. Maar dit is nie die slothoofstuk nie. Intussen was daar darem ook Jesus Christus! En tog steek ons koppe steeds vas by die verhaal van verwydering en glo baie van ons selfs na jare wat ons die Here ken – en in Jesus Christus glo – dat God eintlik met ‘n frons na ons kyk, eerder as met deernis en onbeskryflike liefde.


Mag ons elkeen leer om met nuwe perspektief na God te kyk en te sien met hoeveel liefde Hy na ons kyk, juis omdat hy die volle prentjie sien van wie ons is.

3 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page