top of page

Verborge aanwesig


Elke nou en dan voel dit vir ‘n mens asof die dae hulle voete sleep. Elke dag lyk dieselfde. Dieselfde ou dinge, dieselfde verantwoordelikhede, nog kos koop, nog skottelgoed was, die sleur van die alledaagse lewe - en dit terwyl daar ‘n konstante eksterne lawaai en gedruis van buite af woed wat ons in duisend rigtings probeer trek. Die soort samelewing waarin ons leef wil ons laat glo dat daar heeltyd nuwe en opwindende dinge moet gebeur, dat daar heeltyd iets moet wees om na uit te sien, maar eintlik is die gang van die lewe maar meestal voorspelbaar en herhalend.


Hildegard von Bingen het honderde jare terug gesê: “The Spirit is life, movement, colour, radiance, restorative stillness in the din”. En “din” beteken ‘n aanhoudende en oorverdowende lawaai. Die Nederlandse groep Sela sing van die Here se verborge aanwesigheid. Te midde van al die dinge van die lewe is Hy daar: verborge aanwesig. En van my vra dit ‘n diep weet en ‘n dieper stilte om dit te onthou.


Dit is moeilik om nie in die kakofonie van die lewe vasgevang te word nie. Dit is moeilik om nie in te val en saam met die res van die mense te soek na gereelde uitskieter ervarings, adrenalien hoogtepunte en eindelose opsies nie, maar om eerder diep tevrede te leef te midde van die onophoudelikheid van die eise wat aan ons gestel word.


Baie van ons soek ook na kosbare “robyne” in my ervaring met God. Die dilemma is dat robyne nie so algemeen is nie. Robyne is soos brandende bosse. Dit is nogal skaars. Omdat ons so fokus op robyne soek, beland ons maklik in ’n geestelike woestyn en vra dan vrae soos: Waarom beleef ek God nie? Waarom sien ek God nie? Waar is God? Die fout wat ons maak is dit: God laat Hom dikwels beleef, en sien en ervaar, maar anders as wat ons verwag.


Elke dag gee God vir jou ’n klompie klein varswater pêrels, soms net een of twee, soms so ’n handjievol. Jy moet die klein pêreltjies van elke dag, wat individueel nie veel beteken nie en kwalik soos meer as ‘n ryskorrel lyk, vat en begin inryg. Jy moet van die los pêreltjies ’n string maak. Omdat ons wag vir die robyn, herken ons driekwart van die tyd nie die pêrels nie en laat val ons dit op die grond. ‘n Mens moenie in hierdie slaggat trap nie. Hierdie ryskorrel-pêrels vorm die string waaraan die robyne wat mettertyd kom, moet hang.


Ronald Rolheiser verwoord iets hiervan: “If we pray only occasionally, we might well experience some pretty deep emotions in our prayer. However, if we pray faithfully every day, year in and year out, we can expect little excitement, lots of boredom, regular temptations to look at the clock during prayer … but, a very deep, growing bond with our God.”


As jy dalk vandag ‘n sleepvoetdag het, met te veel eksterne stemme en te veel alledaagse sleur, mag jy in die diep weet en dieper stilte, God se verborge aanwesigheid vind.



4 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page