top of page

Verlossing


Ek praat onlangs met ‘n vriendin oor die gewone dinge van die lewe en sommer in die eerste paar sinne sê sy: “Soos ek ouer word besef ek al meer hoe ek verlossing nodig het.” Ek besef sommer gou dat sy hier nie net na ‘n teologiese konsep verwys nie, maar dat sy bedoel dat sy diepliggende verlossing van haarself nodig het – en dat sy dit nie self kan doen nie…


Dit het my diep laat dink dat ons elkeen inderdaad verlossing nodig het. Verlossing van my liggeraaktheid en vinnige oordeel, van my harde woorde en nog harder hart, van my gebrek aan begrip en deernis en my verwaandheid. Verlossing van my selfvoldane geregtigheid en my selfbejammering. Verlossing van my verskuilde arrogansie, my eie waan en my martelaarskap. So kan ek nog vir bladsye aanhou… Om hierdie net eers raak te sien is op sigself reeds ‘n genade.


En ek kan nie myself daarvan verlos nie.

Alhoewel ek glad nie glo dat ons onsself voortdurend moet kasty nie en dat sisteme en verhoudings wat gekenmerk word deur vrees, verpligting, skuld en skaamte, nie van die Here af is nie, het ek van tyd tot tyd skuld en skaamte in myself nodig.


Ek het nodig om skuldig voor die spieël te staan as ek skuldig is. Ek het nodig om skaam te kry as daar iets is om oor skaam te wees. Gepaste skuld en skaamte wys dat daar ‘n mens met ‘n siel hier binne is en dat ek ‘n gewete het. Maar ek kan nie hier bly nie en ek hoef ook nie. Skuld en skaamte is nie veronderstel om in self-haat en self-veragting te verander sodat ek myself daarmee kan martel nie.


En dit is hier waar ek met ‘n sug van verligting besef dat ek nie myself kan verlos van myself nie, maar dat Iemand dit wel kan doen. Hierdie bevryding en verlossing hou natuurlik nooit op nie en is elke dag maar weer nodig. Ek kan nie anders as om hier te dink aan Paulus se bekende woorde te dink nie: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.” (Romeine 7:24 & 25)


Wat ‘n verligting om te weet dat net soos wat ek verlossing nodig het, is ek nie van my eie genade afhanklik nie. Mag ons vandag met sagte oë en sagte harte kyk na onsself en ander terwyl die lig van die Kruis oor ons almal val.

7 views0 comments

Recent Posts

See All

Commentaires


Les commentaires ont été désactivés.
bottom of page