top of page

Die genade van kwesbaarheid: Dat U genade ons behou

 Onthou jy hierdie gedeelte waar Paulus in 2 Korintiërs 12 praat oor die doring in sy vlees?

“Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.” (2 Korintiers 12:7-10)

 

Ons leer hier dat Paulus een of ander doring in sy vlees het. Niemand weet wat dit was nie en daar is al baie daaroor gespekuleer. Hy maak dit duidelik dat dit iets is wat vir hom groot ongemak en pyn (hetsy psigies of fisies) veroorsaak en hy beleef dit as ‘n boodskapper van Satan wat hom met vuiste slaan. Hy het drie maal vir die Here gevra om dit van hom weg te neem, maar dit het nie gebeur nie.

 

Ons elkeen het ook so iets of so iemand in ons lewe. Party van ons het sommer verskeie sulke dinge. Dit breek mens af en maak jou gedaan en lewensmoeg.


Ons natuurlike geneigdheid is om so vinnig as moontlik te probeer om van ons kwesbaarheid ontslae te raak omdat dit soveel ongemak veroorsaak. Tog maak Paulus dit duidelik dat God se krag juis gerealiseer word te midde van ons kwesbaarheid.


En dan hierdie vers: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Hy het besef dat daar in sy kwesbaarheid enorme genade lê, want dit maak hom nie minder van ‘n mens nie, maar juis meer. As hy swak is, is hy sterk.

Ons dink dat ons krag in perfeksie lê. Maar ironies genoeg, hoe meer perfek jy maak of jy is, hoe minder van jou is daar, hoe meer plasties en oneg en onaantasbaar is jy, hoe “swakker” is jy op God se skaal van swak en sterk.


Hoe meer jy in voeling is met heelhartige kwesbaarheid hoe meer eg is jy, hoe meer kan ander met jou identifiseer, hoe meer wórd jy integriteit en wysheid, hoe meer pas die stukke van jou legkaart inmekaar – ironies genoeg – en hoe “sterker” is jy, op God se skaal van swak en sterk.


Daarom is God se genade genoeg, want te midde van my gebrokenheid en kwesbaarheid kom daar diepte en egtheid en integriteit en skyn daar ‘n lig wat nie andersins deur my lewe sigbaar word nie.

 

God ontmoet my in my kwesbaarheid. Hy word op ‘n vreemde, onlogiese manier sigbaar deur my kwesbaarheid en Hy keer dat my kwesbaarheid my laat disintegreer,  net soos ‘n membraan van ‘n sel keer dat die sel uitmekaarval. Hierdie membraan, die ding wat keer dat ons disintegreer en ineenstort, is God se genade – wat genoeg is vir enige hoeveelheid kwesbaarheid.


Sheila Cussons verwoord iets van hierdie mistieke dinamika wat ons deur ons kwesbaarheid onlosmaaklik aan God se genade verbind en ons laat behoue bly.


Gebed vir die in die wêreld – Sheila Cussons

 

Dat ons leef omdat U leef is die eerste

van alles wat wonderlik is.

'n Wisselvloei is daar tussen U en ons.

U vloei in ons in en ons in U, en in U word

ons arme vog gesuiwer en vernuwe,

en ons self keer uit U terug in ons in

deur die membraan wat tyd en wêreld is.

Membraan of illusie, so dun is dit, so nie,

so nêrens vir u begenadigdes.

Dankie dat ons wat onsself versteek vir ons naastes

gans oop is vir U en U oop.

Dankie vir die gladder as asemhaling heen en weer

tussen U en ons; dat tyd en ewigheid

mekaar deurdring, nie twee is nie maar een.

Dankie, God, vir dié wonder, waarin die harde seer

wat wêreld is, sagter as asem oplos en verdwyn.


Hoe meer ons ons eie kwesbaarheid ontdek, hoe meer eg ons word, hoe meer ontdek ons die mistieke eenheid wat ons in ons kwesbaarheid met ander en God ervaar. Ons ontdek dat ons deur genade bymekaar gehou word sodat ons nie disintegreer nie. En daarom kan ons bely: “Here, U genade het ons hier behou, in U hand van liefde vasgehou…”


Mag die ongemak en pyn van ons kwesbaarheid mettertyd in die membraan van God se genade sagter as asem oplos en verdwyn, sodat daar meer van God deur ons kan sigbaar word en ons kan weet dat sy genade elke dag genoeg is.

 

©️ Marina vd Linde 2024



6 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page