top of page

Die genade van kwesbaarheid: Verskillende vorme van kwesbaarheid

Brené Brown onderskei tussen twee vorme van kwesbaarheid: “wholehearted vulnerability” (heelhartige kwesbaarheid) en “excruciating vulnerability” (pynlike kwesbaarheid).


Heelhartige kwesbaarheid behels dat ek nie wegdeins van my kwesbaarhede nie, maar dit op ‘n gesonde en helende manier saam met my dra, om my voortdurend aan my menslikheid te herinner.

Dit wil my help om myself realisties te sien en afhanklik van God te bly en is noodsaaklik in my verhouding met myself, die mense na aan my en in my verhouding met God.

Heelhartige kwesbaarheid weet voor wie dit veilig is om kwesbaar te wees en voor wie nie.

Heelhartige kwesbaarheid kom vanuit ‘n plek van nederigheid en openheid.

Deur heelhartige kwesbaarheid, kom daar diep en egte konneksies tussen my en ander mense.

My kwesbaarheid leer my dat God my aanvaar net soos ek is en daarom kan ek ook myself aanvaar en hoef ek nie voor te gee dat ek iemand is wie ek nie is nie.

Heelhartige kwesbaarheid het ‘n misterieuse tipe aantrekkingskrag wat mense nader trek en egtheid adem en aanmoedig.

 

Pynlike kwesbaarheid of “excruciating vulnerability” kom vanuit ‘n plek van skaamte en moet weggesteek word.

Pynlike kwesbaarheid word gekenmerk deur vrees, skuld en skaamte.

Dit maak dat ‘n mens wil wegkruip en so min as moontlik van jou binnekant vir ander mense wil wys.

Ons kwesbaarhede word geheime, wanneer ons bang is dat mense ons sal verwerp as hulle agterkom wie ons regtig is en daarom begin ons geslote lewens leef, waar ons wegkruip vir ander.

Wat sal mense doen as hulle weet van jou aggressie of dat jy mal is oor sepies of in die aand nougat in die donker eet of twee jaar laas uit jou Bybel gelees het?

Maar daar is ook ‘n ander soort kwesbaarheid wat allesbehalwe gesond is.


Kom ons noem dit ekshibisionistiese kwesbaarheid.

Jules Evans sê: “(Vulnerability) becomes performative, a device, a mask, a way to manipulate others.”

Ekshibisionistiese kwesbaarheid word te maklik gedeel en mense word te maklik in jou kwesbaarheid toegelaat.

Dit gaan dikwels met ‘n slagoffer of martelaar identiteit gepaard en maak dat mense iemand aanvanklik baie jammer kry, net om later van tyd agter te kom dat kwesbaarheid as ‘n vishoek gebruik is om op ongesonde maniere empatie te kry.

Die gevolg is dat mense hulle dan mettertyd van so iemand distansieer.

Dit is maklik om pynlike kwesbaarheid of ekshibisionistiese kwesbaarheid in ander te sien. Die vraag is of ek bereid is om my eie kwesbaarheid “tot bekering” te laat kom, sodat dit ‘n lewegewende rol in my lewe kan speel? Sonder heelhartige kwesbaarheid sal ek nie egte konneksie in my lewe ervaar nie en daarom is dit die moeite werd om jou verhouding met jou eie kwesbaarheid te ondersoek.

 

Ek wil weer sê: Om weg te skram van kwesbaarheid af of om kwesbaarheid te misbruik, nie gesond nie en albei is ego-reaksies waarmee ons ons realiteit probeer beheer.

Om kwesbaarheid op ‘n gesonde manier deel van jou lewe te maak vra geweldig baie dapperheid, en dit kom vir niemand maklik nie.

 

©️ Marina vd Linde 2024

 



 

8 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page